Vilnius

Vilnius


Europese Kultuurhoofstad 2009
Europos Kultūros Sostinė 2009


Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Litaue Litaue
 Administratiewe gewes Vilnius
 Koördinate 54°51′N 25°17′O / 54.850°N 25.283°O / 54.850; 25.283
 Stigting (eerste verwysing) 1323
 Stadstatus 1387
 Oppervlakte:  
 - Totaal 401 vk km
 Hoogte bo seevlak 112 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2024) 602 430
 - Bevolkingsdigtheid 1 560/vk km
 Tydsone UTC +2 (OET)
 - Somertyd UTC +3 (OEST)
 Klimaat  
 - Tipe Kontinentaal-gematig
 - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 6,0 °C
 - Gem. temp. Januarie/Julie −6,1 / 16,9 °C
 - Gemiddelde jaarlikse neerslae 653,5 mm
 Burgemeester Valdas Benkunskas
 Amptelike webwerf www.vilnius.lt

Vilnius (Litaus: [ˈvʲɪlʲnʲʊs], ; Duits ook Wilna; Russies: Вильнюс of Вильна; Pools: Wilno; Jiddisj: ווילנע, Wilne) is die hoofstad van Litaue en die administratiewe gewes Vilnius (Litaus: Vilniaus Apskritis). Vilnius, wat in die suidooste van die land aan die monding van die Vilnia-rivier in die Neris en net sowat veertig kilometer van die Wit-Russiese grens af geleë is, is ook die grootste stad van Litaue met 'n bevolking van 602 430.

Die moderne stadsilhoeët teen sononder, soos gesien vanaf die Gediminas-toring

Vilnius het in die 13de eeu rondom 'n ou vesting ontstaan en is deur grootvors Gediminas in 1322/1323 tot die hoofstad van Litaue verklaar. Vilnius het hierdie funksie tot in die jaar 1795 vervul. Die Rooms-Katolieke bisdom Vilnius is in 1387 gestig, en in dieselfde jaar het Vilnius stadstatus volgens die Maagdenburgse Reg gekry. Die stadsmuur is in die vroeë 16de eeu voltooi.

In die tydperk tussen 1794 en 1915 het Vilnius onder Russiese heerskappy gestaan en het vervolgens tot in 1939 deel van Pole uitgemaak. In die periodes tussen 1915 en 1918 en tussen 1941 en 1944 is Vilnius deur Duitse troepe beset. Ná 'n kortstondige periode as administratiewe sentrum in 1940/1941 is Vilnius sedert 1945 die hoofstad van Litaue.

Vilnius is die kulturele en ekonomiese sentrum van Litaue met beduidende nywerhede soos masjienbou, voedsel-, hout- en leerverwerking, asook chemiese, elektrotegniese, elektroniese en boubedrywe. Die stad beskik daarnaas oor 'n termiese kragsentrale, 'n see- en 'n lughawe. Nogtans word meer as die helfte van die stadsgebied deur parke en ander groen gebiede beslaan. Twee natuurbewaringsgebiede is net buite Vilnius geleë, en die stad word deur golwende heuwellande omsluit.

Vilnius is die setel van 'n Rooms-Katolieke aartsbiskop en sedert 1578/1579, toe 'n Jesuïete-akademie gestig is, wat vanaf 1803 as Poolse universiteit gefungeer het en in die periode tussen 1832 en 1919 gesluit was, 'n beduidende opvoedkundige sentrum. Naas die universiteit is daar tersiêre opvoedkundige instellings en 'n kunsskool.

Vilnius beskik oor drie teaters en belangrike musea. Die stad het saam met die Oostenrykse Linz die titel Europese Kultuurhoofstad van die jaar 2009 gedra, terwyl die historiese stadskern – die grootste in Oos-Europa – reeds in 1994 deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys is.

Beduidende besienswaardighede sluit die 13de eeuse torings van die Laer en Hoër Vesting, die Anne-kerk uit die 16de eeu, die 15de eeuse Sint Nikolai- en die Bernhardyne-kerk uit die vroeë 16de eeu asook 'n aantal sakrale geboue in die barokstyl in. Die kloktorings van sowat dertig Rooms-Katolieke kerke, veertig kloosters en die uietorings van Ortodokse kerkgeboue gee aan Vilnius nie net sy kenmerkende stadshorison nie, maar versinnebeeld ook Vilnius se geskiedenis van religieuse verdraagsaamheid. Vilnius dra dan ook byname soos "Rome van die Ooste", die "Nuwe Praag", "Pêrel van die Barokstyl" of "Stad van Kerke". Vroeër is die stad as 'n beduidende Joodse sentrum en die bakermat van die Joodse Verligting ook die "Jerusalem van die Noorde" genoem.

Vilnius was daarnaas reeds sedert die 15de eeu 'n kulturele smeltpot tussen die ooste en weste en word vandag vanweë sy ryk kulturele lewe, sy naglewe en die groot aantal feeste dikwels as die mees kosmopolitiese stad in die Baltiese lande beskryf.


Developed by StudentB